Die Onse Vader

Effektiewe gebed bevat twee elemente, naamlik die:
Uitspreking van behoeftes Markus 11:24- “ Daarom sê Ek vir julle, alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit sal ontvang, en julle sal dit verkry ”
Inwerkingstelling van jou wil ooreenkomstig God se Wil. Johannes 15:7 - “… sal julle vra net wat julle wil hê, en julle sal dit verkry ” In Matthéüs 6:9 - 13 word die Onse Vader as model gebed aan die mens voorgehou. Dit behels dat God erken word as ons Vader en dat Hy in die hemele is. Die gelowige praat met God, soos ‘ n kind met sy Pa sou praat. Ons het nog nie begin om die moontlikhede van die gebed te besef nie. Daar is byvoorbeeld geen perk aan die omvang van hierdie gebed nie. Ons kan met ander woorde alles wat aan ons lewe behoort, in gebed opneem, en nie net daardie dinge wat ons geestelike belang raak nie. In Johannes 14:12 staan geskrywe: “ Voorwaar, Voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo- die werke wat Ek doen, sal hy ook doen; en hy sal groter werke doen as dit, omdat ek na my Vader gaan. ”
Daar is niks magtigers as gebed nie en daar is niks wat ons daarmee kan vergelyk nie. Die potensiaal van gebed is so geweldig dat dit byna onbeskryflik is. Geskiedenis leer ons dat gebed geweldig baie vermag. Dit is een van die belangrike redes waarom die vroeë Christene so aan die brand was vir God. Gebed was onlosmaaklik deel van hulle lewens. Kragvolle gebed geskied wanneer die bidder, die nodige outoriteit besit en volhard in die gebed. Gebed is die kanaal waardeur jou geestelike lewe gevoed word. As jy dus nie met God gebedsgemeenskap het nie, is dit onmoontlik om geestelik te groei of te vorder op die pad van herstel . In Matthéüs 6: 9 kry ons die opdrag om as volg te bid:
Die Onse Vader -"Onse Vader wat in die hemele Is" Hierdeur word God erken as die skepper van die heelal en die mens se afhanklikheid van God. Dit sluit die gelowige ook in as God se kind en verwerp enige ander gesag of outoriteit oor die gelowige, want slegs God word hierdeur as Vader erken.
-"Laat U Naam geheilig word" “ Jy kan God se Naam eers heilig as jy Sy Naam (persoon) ken. Van jou word verwag om so te lewe, dat ander mense aan jou optrede kan sien dat jy ‘ n kind van God is. Wanneer jy met jou mond die Here Jesus bely en doen wat God van jou verwag, getuig jy inderdaad oor die heiligheid van die Naam van God. As jy dus hierdie gebed uit jou hart bid, gaan dit jou hele lewe verander, en van jou die mens maak wat God bedoel het jy sal wees. Die frase beteken ook: Mag ek en andere eerbiedig van U praat en nie U Naam ydelik gebruik nie. Mag u Naam geheilig word wanneer ander mense na my lewe kyk. Mag ek nooit u Naam misbruik soos in Matthéüs 7:22,23 nie. Dit beteken voorts ook dat jy nie goedkeuring sal verleen deur jou stilswye wanneer God se Naam ydelik gebruik word, hetsy in ‘ n televisie program of deur andere in jou teenwoordigheid nie.
-"Laat U koninkryk kom" Dit sê dat Hy aarde toe moet kom om Sy koninkryk op aarde te kom vestig in die gees sowel as in die vlees, in ons lewens en op die aarde. In Matthéüs 3:2 staan: “ Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom ” Wat Jesus dus eintlik hier sê, is dat met Sy koms, die koninkryk nou by die mens is-slegs ‘ n gebed ver. As jy dus bid: ” Laat U koninkryk kom ” , vra dit van jou om jou hemelse Koning se heerskappy oor jou lewe te erken. Dit vra ook dat God jou sal toerus met die outoriteit wat Jesus Christus gehad het. “ Die Here se koninkryk is daar waar Hy as Koning erken en gehoorsaam word; Daar waar die grondwet van die Koning die grondslag van jou lewe geword het, en die bergrede in sy geheel word as die grondwet van God se koninkryk beskou ” Dit is ‘ n versoek dat God se seëninge, Sy wil, en Sy Seun Jesus Christus, in ons lewens openbaar moet word, en dat ons lewens sal wees asof ons in die hemel is. Dit is ‘ n bede dat ons lewens volgens Johannes 5:30 , sal wees net soos God dit in die hemel wil hê.
-"Laat U wil geskied, soos in die hemele net so ook op die aarde" Hierdie bede vra dat jy sal meehelp dat God se volmaakte Wil en doel in die wêreld sal geskied. Dit vra ook dat God jou lewe sal verander en dit maak asof jy nou in die hemel is. Al die hemel se seëninge en oorvloed, word deur hierdie gebed oor jou lewe ontsluit. Hierdeur onderwerp jy dan ook jou eie wil, aan die Wil van God. Matthéüs 22:37 -Jy bid met ander woorde ook dat jy God bo alles sal liefhê,-Want dit is Sy Wil. Johannes 13:14 -Dat jy ‘ n dienaar en helper in die wêreld sal wees – Want dit is Sy Wil.
Matthéüs 22:39 -Dat jy ‘ n kanaal is van God se onvoorwaardelike liefde na ander mense- Want dit is Sy Wil. Matthéüs 28:19 -Dat jy die Evangelie van Jesus Christus sal uitdra- Want dit is Sy Wil.
-"Gee ons vandag ons daaglikse brood" Christene kry nie altyd wat hulle wil hê nie, maar wel wat hulle nodig het. In Jakobus 1:17 staan: “ Elke goeie gif en elke volmaakte gawe dal van bo af neer, van die Vader van die ligte, by wie daar geen verandering of skaduwee van omkering is nie. ” Hierdie gebed vra van God se kinders om te erken dat God hulle voorsiener is. Dit is dieselfde God wat in 1 Konings 17:2-16 vir Elia deur die kraai laat voed het, en die weduwee se olie en meel nie laat opraak het nie. Deur op hierdie manier vir jou “ daaglikse brood ” te bid, word jy ook geleer om een dag op ‘ n slag te lewe en nie alles sommer as vanselfsprekend te aanvaar nie, maar God in alles dankbaar te wees. Ons word aangemoedig om vandag te bid vir vandag se behoefte. More bid ons vir more se behoefte. Matthéüs 6:34 - “ Kwel julle dus nie oor more nie, want more sal hom oor sy eie dinge kwel. Elke dag het genoeg aan sy eie kwaad ” Dit is ‘ n versoek dat God vir ons daagliks sal sorg. Dat God aan ons die dinge sal gee waarvoor ons gebid het en dat Hy ons ook soos in Romeine 8:26 , daagliks van ons geestelike behoeftes sal voorsien.
-"Vergewe ons, ons oortredinge net soos ons die vergewe wat teen ons oortree het" As ons bely, sal Hy vergewe. 1 Johannes 1:9 , “ As ons, ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig ” MAAR , soos ons daagliks deur Hom vergewe word, moet ons daagliks ander vergewe- anders word ons nie vergewe nie, word ons gebede nie verhoor nie! Hierdie is sekerlik een van die kragtigste verklarings wat in gebed gemaak kan word, en dit is ook ‘ n verklaring wat die hart van die bidder oopstel voor God. In Romeine 3:10-18 staan daar geskrywe: “ Daar is niemand wat God soek nie. Hulle het almal afgewyk, saam het hulle ontaard. Daar is nie een wat goed doen nie, daar is selfs nie een nie. Hul keel is ‘ n oop graf, met hul tonge pleeg hulle bedrog, die gif van adders is onder hulle lippe. Hulle mond is vol vervloeking en bitterheid. Haastig is hulle voete om bloed te vergiet, verwoesting en ellende is in hulle paaie, en die weg van vrede, ken hulle nie. ” Wanneer Jesus van vergifnis praat, vra Hy dat God ons sonde sal vergewe op dieselfde manier, wat ons bereid is om ander mense wat teen ons gesondig het, te vergewe. Daar moet dus volkome vergifnis aan jou kant wees. In Miga 7:18-19 staan: “ Wie is ‘ n God soos U, wat die ongeregtigheid vergewe en by die oortredinge van die oorblyfsel van sy erfdeel verby gaan? Hy hou toorn nie vir ewig vas nie, maar het ‘ n welbehae in goedentierenheid. Hy sal Hom weer oor ons ontferm, ons ongeregtighede vertree; ja, U sal al hulle sondes in die dieptes van die see werp ” Die feit dat God bereid is om te vergewe, behoort ‘ n gesindheid van vergifnis in jou voort te bring. In Matthéüs 5:7 staan: “ Salig is die barmhartiges, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word ” Die oorwinende gebed is: “ Vergewe en word vergewe elke dag. ” Bitterheid kan nie vir ewig in die mens se binneste opgekrop bly nie. Onvergewensgesinheid en bitterheid is ‘ n siekte, byna soos kanker. Hoe meer dit vertroetel word, hoe erger versprei dit en tas letterlik die liggaam en siel en gees aan. Wanneer jy met woede in jou hart gaan slaap, word die ding waarmee jy worstel, al erger deur die nag en jou gedagtes word satan se kuierplek. Gevoelens van haat oorheers die rasionele denke en so 'n persoon slaap onrustig of glad nie.
In Hebreërs 12:14-15 staan daar geskrywe: “ Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie; en pas op dat niemand in die genade van God veragter nie; dat geen wortel van bitterheid opskiet en onrus verwek en baie hierdeur besoedel word nie ” Die sondige aard van die mens vorm die basis van die hele Onse Vader. Geen rasionalisering van ons kant, kan ons van hierdie erkenning vrystel nie. “ Jesus het van drie verskillende woorde gebruik gemaak toe Hy van vergifnis gepraat het. Die eerste was die Griekse woord opheilma , wat met oortredinge vertaal word en dit beteken die nalaat om te betaal wat jy skuld; dit is met ander woorde ‘ n pligsversuim en nie ‘ n omstandigheid soos armoede nie. Die tweede woord is paratoma wat beteken om onwettiglik oor ‘ n grenslyn te tree. Dit impliseer dat ons deur een of ander impuls of kortstondige hartsog wat op ons pad kom, meegesleur sal word, en ons beheer sal laat verloor. Die derde woord wat in Lukas gebruik word, is hamartia , wat met sonde vertaal word. ” Dit is ‘ n versoek, maar ook ‘ n bekentenis wat ons bewus maak van vergewensgesindheid Dit is ‘ n bede om ons saak voor Hom in geregtigheid aan te hoor en volgens Kolossense 3:13 te vergewe op grond van die wyse waarop ons teenoor ons naaste optree. Die gelowige word gelei om self sy/haar sonde voor God te bely, berou daaroor uit te spreek, en vergifnis te vra. Die gelowige dank ook God op hierdie stadium vir sy/haar vryspraak en verlossing van skuldgevoelens.
-"Laat ons nie in die versoeking kom nie, maar verlos ons van die bose" Versoeking is eintlik ‘ n geestelike morele verleiding wat die vleeslike natuur van die mens aangryp. Ons het elke dag leiding nodig en moet daagliks bid vir goddelike leiding om ons uit die versoeking te hou. Dawid juig in Psalm 23:3 : “ Hy lei my in die spore van geregtigheid om Sy Naam ontwil ” Wanneer jy bid dat God jou van versoekings sal bewaar, vra jy dus eintlik dat Hy jou sal help wanneer die versoekings kom, dat jy dit as sodanig sal herken en met God se krag sterk genoeg sal wees om nie daaraan toe te gee nie. Baie gelowiges trap in die strik van vergelding en wraak, terwyl die Woord ons duidelik leer dat die wraak en vergelding aan God alleen toekom. In 1 Korinthiërs 10:13 staan: “ Geen versoeking het julle aangegryp behalwe ‘ n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking, ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan dra ” Dit is ‘ n bede dat God ons van ons eie selfsugtige begeertes sal bewaar; want dit is hierdie begeertes wat volgens Jakobus 1:15 lei tot sonde. Hoewel God nie die versoeker is nie, laat Hy die versoeker (die duiwel) toe om die mens te versoek, en het die mens die keuse of hy gehoorsaam wil bly aan God of toegee aan die versoeking. Omdat God die mens self gemaak het en Hom ken, verleen Hy egter ook uitkoms van die versoeking.
Versoekings kan beveg word, met die wapens wat God aan die mens beskikbaar gestel het. Hierdeur vra jy God om hulp, sodat jy die wapens kan aanwend met suksesvolle gevolg. Die spesifieke wapen wat hier gebruik word is die “ Swaard van die Gees ” , - die Bybel. Jy moet ‘ n goeie kennis inwin van God se Woord om versoekings te kan weerstaan. Tydens sy versoeking in die woestyn in Matthéüs 4:1-11 , het Jesus telkens die satan na die Woord van God verwys en gesê: “ Daar staan geskrywe ” Wanneer Jesus vir Sy dissipels bid in Johannes 17:15 , vra Hy nie Sy Vader om hulle uit die wêreld weg te neem nie, maar om hulle van die bose te bewaar. 1 Korinthiërs 10:12 lees: “ Wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie ” Daar is dus geen mens wat moet dink dat hy in sy eie krag staande kan bly teen versoekings nie. Hierdie is ook ‘ n bede dat jy nie jou gees sal oopstel vir demoniese aktiwiteite, negatiwiteit, moedeloosheid, depressie of enige ander gedagte wat nie van God afkomstig is nie. In Efésiërs 4:27 staan geskrywe: “ en gee aan die duiwel geen plek nie ” Die satan is bekend vir sy aanvalle in die gedagte area. In hierdie bede vra jy dus dat God jou ook sal bevry van enige wanindrukke oor Hom, van enige wanpersepsies, en van enige gees van sonde of verkeerde oortuigings. Sommige gelowiges is vasgevang in onmoontlike situasies, en hul lewens word vernietig deur opsigtelike of deur subtiele sondes. God kan so 'n mens verlos van daardie sonde. God se bevryding kom nie net deur ons uit bande los te maak nie. Dit kom ook deur ons getrou te hou. In hierdie frase vra ons dus dat God ons van satan se aanvalle op ons gees, siel en gedagtes sal bewaar, soos Jesus vir Sy dissipels in Johannes 17:15 gebid het.
-"Want aan u behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid, tot in ewigheid" Met hierdie slotwoorde keer Jesus terug na die dinge waarmee die gebed begin het - die eer aan God. Hy bevestig die Vader as die Een wat waardig is van al ons prys en lof. Dit moet tydens elke gebed erken word, dat al die krag en heerlikheid aan God behoort tot in alle ewigheid. Dit is ook ‘ n belydenis waarom God ons hierdie versoeke kan toestaan: “ Want aan U behoort die koninkryk , en die krag en die heerlikheid, tot in ewigheid ” . Amen beteken so sal dit wees. Die slotvers van die Onse Vader, besing God se goedheid wat verder strek as die mens se begrip. Dit bring die belydenis navore dat slegs God instaat is om die dinge te doen waarvoor jy gevra het. Met hierdie bede erken ons die uniekheid van God en Sy natuur wat tot ‘ n mate geken kan word omdat ons na Sy beeld geskape is. In Eksodus 3:14 staan: “ En God sê vir Moses: Ek is wat Ek is. Ook sê Hy: So moet jy die kinders van Israel antwoord; EK IS, het my na julle gestuur ”

Die gelowige se identiteit in Christus

Om in die Naam van Jesus te glo, beteken dat jy jou lewe vir Hom gegee het, dat jy ‘ n navolger van Hom is, dat jy bid soos Hy sou gebid het, in God se Wil. Niemand kan geloof in God hê, vir dinge wat buite Sy Wil is nie. In 2 Korinthiërs 5:17 staan geskrywe: “ Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘ n nuwe skepsel; die ou dinge het verby gegaan, kyk, dit het alles nuut geword ” Iemand wat binne die Wil van God is, sal uit die aard van die saak slegs bid vir dinge wat binne die Wil van God is. God eer so 'n gebed en sal aan die bidder geloof verskaf. In 1 Korinthiërs 12:9 staan dat God gee self daardie geloof aan die mens .